Die jong seun, wat mal daaroor was om kultoertjies op die trein te doen vir ’n ekstra geldjie, het eendag gesien hoe sy pa verneder is deur die polisie.
Dit het hom heeltemal getraumatiseer en hy kon nie verstaan hoekom swart mense so behandel word nie.
Toe stap hy op ’n keer in die straat saam met sy ma toe ’n wit priester sy hoed gelig het vir haar. Dit het ’n lewensverandering teweeg gebring vir die jong seun. Járe later is hy met ’n Nobelprys vereer.
Desmond Tutu se lewe is net een van die besonderse mense waaroor die joernalis, vertaler en dromer skryf in haar jeugboek Suid-Afrikaanse Helde en Ikone.
Wendy Maartens van Tableview is hoog in haar noppies met haar tiende boek in agt jaar. Suid-Afrikaanse Helde en Ikone is gemik op kinders tussen grade 3 en 7, maar terwyl sy verduidelik waaroor dit gaan, besef ’n mens dat ouer lesers ook iets daaruit kan leer.
Drie en dertig Suid-Afrikaanse ikone is bevry van politieke en geskiedkundige feite en die persone self is eerder bestudeer en hul karakters opgesom in kort en kleurvolle snedes. Meeste van die ikone is welbekend, soos Sara Baartman, Danie Greyling, Koos de la Rey, Sjaka en Nelson Mandela.
Daar is ook ’n paar wat smeek om beter geken te word. “Een verhaal gaan oor ’n anonieme 11-jarige Vrystaatse boerseuntjie wie se pa gevangene geneem was deur die Engelse in die Anglo-Boereoorlog en in ’n konsentrasiekamp naby Groenpunt opgesluit was. Die seun se ma het altyd vir hom gewys in watter rigting sy pa was. Die Engelse het toe die res van sy familie gevang, maar hy het ontglip en kaalvoet gestap van Bloemfontein, deur die Engelse linie tot in die Kaap!”
Maartens kan nie uitgepraat raak oor al die karakters in haar boek nie. Sy vertel ook van Enoch Sontonga, die komponis van Nkosi Sikelel’ iAfrika. Dan Nelson Mandela.
“Ek wil vir kinders leer dat daar ’n vonk is wat die Hemelse Vader in elkeen van ons gesit het. Enigiemand kan iets noemenswaardig vermag. ’n Mens moet nie vaskyk in die politiek nie, en dit is wat ek met hierdie boek doen. Dit só belangrik dat kinders die nodige leiding kry oor hoe om mense se optrede te interpreteer en hul eie binnestem te vertrou. Om hierdie rede het ek die boek opgedra aan alle Suid-Afrikaners wat aanhou om die klein dingetjies te doen wat uiteindelik ’n verskil maak.
“Die wete dat my woorde soms wit klippies is, wat ander help om ’n pad in hul eie verhaal te vind, is ’n dubbele vreugde!”
 ***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***
Advertisements