tbabjohan2
Die liggaamsbouer trek sy pienk voorskoot aan. Vanaand gaan die skaapboud práát!
Die gehoor? ’n Fraaie nooi van Brackenfell en duisende Kêrels wat Kook-aanhangers.
In kykNET se gewilde realiteitsprogram sal Chalene Schlechter moet kies tussen Bloubergstrand se Johan Terblanche, Durbanville se Laurentius Fullard en mede-Brackenfeller, Niell Horn.
Dit gaan natuurlik nie net oor hul spontane persoonlikhede of sprankelende voorkoms nie, maar ook oor hoe goed hulle kan kook!
Die eerste episode van die tweede reeks is verlede week uitgesaai en Johan was die man met die pan.
TygerBurger het met die sportvoedselkundige liggaamsbouer gaan praat oor hoe dit voel om nou in die openbare oog te wees.
“Ek stap maar met my sonbril en hoed rond,” sê Johan laggend.
Die nuwe kykNET-reeks is geskiet in Maart, maar Johan is baie geheimsinnig oor wat die uiteinde vir hom was.
Vanjaar is die reeks uitgebrei na 28 episodes, wat beteken dat sewe meisies elkeen die geleentheid kry om op ’n afspraak met drie verskillende kêrels te gaan. Ná afloop van die drie afsprake, nooi elke meisie haar potensiële kêrels gelyktydig na ’n laaste afspraak: ’n ete by ’n spog-restaurant waar sy hulle een vir een uitskakel totdat sy met die kêrel van haar keuse oorbly vir nagereg.
“Was dit jy, Johan?”
Die TygerBurger se beste pogings om die wenner te ontmasker, was ’n liederlike mislukking.
“Dis ’n geheim,” antwoord Johan.
“Komaan, Johan. Hoe kon sy nie geval het vir jou pienk voorskoot nie? Dit was jy, nê?” vra TygerBurger weer. “Julle sal maar die program moet kyk,” hou hy vol.
Die gespierde kêrel van Bloubergstrand glo die belangrikste ding was om die kykers te laat lag – vandaar die pienk voorskoot.
“Ek word gespot oor die voorskoot op Facebook! Maar meeste het daarvan gehou – veral die ouer tannies,” verduidelik hy.
Johan het al sy sjarme gebruik op Chalene, maar sy het bietjie baie gepraat, grap hy. Gelukkig het dit tot gevolg gehad dat daar geen ongemaklike stiltes was nie.
In vorige episodes het Johan ook gesien dat die meisies deur die kêrels se kaste gaan krap. Hy het toe sjokolades daar weggesteek. Hierdie tegniek het goed afgegaan by Chalene nadat sy erken het dat die pad na haar hart deur sjokolade loop.
Johan het vooraf geen idee gehad van hoe Chalene gelyk het nie en hy het op die kamera voorspel dat sy “’n blondine met ’n mooi lyfie” is.
Die donkerkop Chalene was nie baie in haar noppies met Johan “Nostradamus” nie, maar toe die skaapboud bedien is, het sy hom vinnig vergewe.
Johan reken die geheim vir ’n suksesvolle eerste afspraak is om so veel moontlik uit te vind oor die ander persoon.
Hy het baie geleer van Chalene en haar ander “persoonlikhede”, Candy en Bonnie.
“Candy is die flirty een. Uhm… Bonnie… Er… Ek kan nie te veel onthou van Bonnie nie…”
Kyk gerus Kêrels wat Kook op Donderdae om 21:00, Vrydae om 16:00, Saterdae om 06:00 of Sondae om 21:30.
 ***DISCLAIMER: THIS ARTICLE WAS PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. IT MAY NOT BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***
Advertisements