tbabcountry4
Nostalgie en inspirasie het Sondag getrou in ’n melodieuse skouspel by GrandWest se Grand-arena. Die uitmuntende Bakgat-Country-Opskop, waarvan TygerBurger die mediaborg is, het die gehoor op hul voete gehad met bekende liedjies deur beroemde kunstenaars.
“Country road take me home’’, “Tiny Bubbles” en “Rarest Flowers’’ was net die regte medisyne om jou ou platespeler en LP’s af te stof, ’n cowboy-hoed en stewels aan te trek, en terug te gaan in tyd.
Die Afrikaanse cowboy, Lance James, het die taak van seremoniemeester verrig en die Musiekwêreld-orkes het verseker dat die vertonings altyd vars gebly het.
Al was die Opskopvertoning gedoop in herinneringe, het Die Campbells gewaarborg dat vandag se country-musiek nie afgeskeep word nie.
Teen die einde van die vertoning was elkeen van die kunstenaars op die verhoog en het hulle gesorg vir ’n uitsonderlike country-klimaks toe Die Campbells en James omring was deur sterre Ricus Nel, Matt Hurter, Wynand en Cheree Strydom, Barbara Ray, Alan Ladd, Billy Forrest, Manie Jackson en nuweling Sulize Bester.
Bakgat-Promosies se eienaar, Christo Booyens, is baie in sy noppies ná nog ’n suksesvolle Country-opskop.
“Dit was die eerste keer dat ons ’n band gehad het!
“Hulle het baie hard geoefen en ons is baie dankbaar vir hulle bydrae. Ons is natuurlik net so dankbaar dat so baie mense opgedaag het. Daar was meer as 4 000 mense,” sê hy.
TygerBurger was die hoofborg en dan het Bokradio, Radio Helderberg en Musiekwêreld in Bellville ook ’n rol gespeel in die skouspel.
Garth Hewitt, WP-Koerante se advertensiebestuurder, het gesê R10 van elke kaartjie wat verkoop is, sal geskenk word aan die TygerBurger-Solidariteit-beursfonds.
Gaan na TygerBurger se webtuiste vir meer foto’s.
***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***
Advertisements