tbabmaritsa1
Dié vasbeslote dokter is oortuig sy kan ’n verskil maak aan die lewens van die wat dit die meeste nodig het.
Gedurende die dag werk sy as ’n mediese dokter by die Ruyterwacht-daghospitaal, help uit by ’n volwasse ondersteuningsgroep en oefen vir die Two Oceans-halfmaraton. Dan keer sy uiteindelik terug na die verwelkomende arms van haar man en drie-jarige seun in Van Riebeeckshof.
En boonop het sy dit ook reggekry om genomineer te word as een van die nege finaliste vir Mev. Kaapstad.
Dr. Maritsa Kotze (30) is hard besig om haar eie wêreld oneindig te verryk.
TygerBurger het ’n paar minute van haar tyd gekry sodat sy kan verduidelik wat sy doen, hoe sy dit doen en, natuurlik, hoekom sy dit doen.
“Die Mev. Kaapstad-skoonheidskompetisie word op 13 April gehou. Ons nege finaliste moet nou soveel moontlik geld insamel vir ’n filantropiese projek. Ek het eintlik ingeskryf, omdat ek blootstelling vir ons ondersteuningsgroep in Ruyterwacht wil hê en wil leer hoe om geld daarvoor in te samel,” sê Maritsa met ’n sprankel in haar oog.
TygerBurger het in Julie verlede jaar in die artikel getiteld “Kommunikasie help genees” meer uitgebrei oor die ondersteuningsgroep, Ruyterwacht Cares. Maritsa het die groep begin met die doel om die sielkundige aspekte van pasiënte te verstaan.
Die fokus val op veral MIV-positiewe pasiënte, dié met geestesgesondheidtoestande en ouers van dwelmverslaafde kinders.
“As ’n Mev. Kaapstad-finalis is die waarskynlikheid groter dat ek die nodige geld sal kan kry om die groep beter te kan help,” verduidelik Maritsa voordat sy byvoeg haar droom is om só haar diens uit te brei na ander hospitale. Dit was tot op hede maar moeilik om borge te kry vir haar projek, maar sy is oortuig dat haar nuwe avontuur haar op die langtermyn gaan help.
“Ongelukkig is ek ’n mevrou en nie ’n mejuffrou nie,” lag sy. “Ek het vorige jare hierdie mooi vroue in die koerant gesien en só het ek bewus geraak van die skoonheidskompetisie.”
Mev. Kaapstad-finaliste moet geld insamel vir graad R-skole wat gebou moet word.
Maritsa gaan voort: “Meeste kinders in plattelandse of minderbevoorregte gemeenskappe het nie graad R-geriewe nie. Só, hulle het ’n agterstand as hulle skool toe gaan.” Haar plan om geld in te samel vir hierdie projek is om die Two Oceans-halfmaraton op 30 Maart te hardloop, omdat sy “in elk geval daarvan hou om te hardloop”.
Haar mikpunt is om die halfmaraton in twee ure te hardloop. “Vanjaar is ek moeg vir pretlope! Dit is tyd vir ordentelik hardloop! Ek het Rolemodels Foundation geregistreer op http://www.doit4charity.co.za. Nou kan mense sommer maklik geld skenk. Enigiemand wat ’n bydra maak, kom in aanmerking vir ’n uitsonderlike sjampanje of ’n mani- en pedikuur. ”
So tussendeur haar onselfsugtige en lewenslustige projekte het sy selfs tyd vir die twee Louis’e in haar lewe – haar man en haar 20 maande oue seuntjie.
Sy sluit af: “My lewe is ongelooflik geseënd, so ek wil my deel doen. Ek is mos nie anders as daardie persoon wat in ’n rolstoel geld vra langs die verkeerslig nie.”
***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***
Advertisements