tbabruyt
“Dit was ’n nagmerrie! Jy kan dit nie vir iemand beskryf nie…jy moet self daardeur gaan. Dit is die aakligste ding wat met iemand kan gebeur.”
Dít is die gevoel van die Coetzee-gesin, wat aan die einde van 2011 onwettig uitgesit is uit hul huis in Ruyterwacht. Hulle kon eers weer Kersfees verlede jaar terugtrek.
Hulle het onlangs die uitgerekte hofsaak gewen teen Communicare, maar tydens dié ervaring het die hele gesin maar swaar getrek.
Christopher (51), Rita (46) en twee van hul drie kinders het deur hel gegaan en het nou besluit om hul storie te vertel.
Rita sê dit is onmoontlik om die impak wat die uitsetting op hul lewe gehad het ten volle te beskryf, maar sy probeer nietemin.
Trein

“Ons het vir omtrent ’n jaar by ’n familielid in Kraaifontein gebly. Dít terwyl ons kinders skoolgegaan het in Ruyterwacht. Amper elke dag moes my man en ons kinders terugry van daai kant op ’n trein. Dan sal hulle afklim by Brackenfell-stasie en stap – in die wind en reën tot verby Cape Gate!”

Die drie het eers omstreeks 20:00 in Kraaifontein aangekom, en dán begin die huiswerk.
Christopher het baie keer sy 13-jarige dogter se skooltas gedra, en probeer om haar vrae te antwoord. “Pappa, hoekom bly ons nie meer in ons huis nie? Wanneer gaan ons weer terug, Pappa?”
Die Coetzee’s se 18-jarige seun sou seker ’n beter begrip gehad het van wat oor sy gesin se pad gekom het, maar niemand het die situasie werklik verstaan nie.
Huurgeld

Rita brei uit: “Ons huurgeld was voluit betaal, maar daar was prokureurskoste op ons rekening, wat ons nie betaal het nie. Hierdie kostes het daartoe gelei dat ons uitgesit is.”

Die Coetzee’s sou eers hulself verteenwoordig in die hof, maar ’n prokureur het besluit om hulle pro bono te help. Ná maande het die regter besluit dat hulle onwettig uitgesit is, maar die skade was klaar gedoen.
Rita onthou nog die noodlottige Donderdag in Oktober 2011 soos gister.
Buurvrou

“Ek was op pad na Shoprite, toe bel ons buurvrou my omstreeks 11:00. Toe ek hier aankom was die balju en die trok al klaar hier. Ek het skaars die voordeur oopgesluit, toe hardloop die werkers in en pak al ons goed in swartsakke! Hulle het nie respek vir jou goed nie!”

Sy gaan voort om te vertel dat die werkers al haar besittings eers buite gepak het en dat hulle op pad was om dit in die trok te sit, toe sy vra of hulle dit eerder in die bure se tuin kan los. Hulle het toegestem, maar alles sommer oor die muur gegooi. Baie van haar besittings het daar en dan gebreek.
Tydens die chaos het die Coetzee’s se dogter, wat skoolgaan net oorkant die pad, gesien wat by haar huis gebeur. Die kinders het haar gespot, terwyl sy by die draadheining van die skool gehuil het.
Voordat Rita haar oë kon uitvee, was hul huisslotte omgeruil en al haar besittings oor die muur gegooi.
Daardie aand het dit gereën, wat nog verdere skade aangerig het.
Die daaropvolgende jaar en ’n half het soos ’n leeftyd gevoel. Volgens Rita was die ellende waarin hulle gedompel was, uiters senutergend.
Vier van hulle het in ’n kamer geslaap en elke dag was ’n nuwe uitdaging vir haar kinders, wat intussen emosioneel en sielkundig besonders swaar getrek het.
“Ons het finansieel net op ons voete gekom en toe kry ons díé val!
“Ons is nou weer hier onder. Skoolfondse en huur word altyd eerste betaal. As ons weer deur so drama moet gaan, dan weet ek nie,” sê sy.
Op 21 Desember verlede jaar het hul uiteindelik weer ingetrek. Kersfees was maar ’n stil tyd vir die gesin.
Rita sluit af ná ’n lang sug: “Al wat ons hierdeur gekry het, was geloof en gebede. Niemand moet ooit deur só ’n nagmerrie gaan nie.”
***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***
Advertisements