tbabplantTannie “Liekkie” Jordaan (77) het ’n woonstel vol verrassings. In die een hoek is daar ’n unieke koffietafel, in die ander is daar tientalle porseleinpoppies en aan die ander kant van die vertrek staan ’n skootrekenaar.
Die mees fassinerende verrassing groei egter in ’n pot op haar stoep – ’n geheimsinnige plant, wat Liekkie behoorlik gestonk het.
Watse vreemde plant is dié wat honderde klein plantjies van sy eie op die blare dra? “Ek noem dit die tsoenami-plant,” vertel Liekkie met groot oë.
’n Vriendin van haar destydse buurvrou het die plant teruggebring van Asië ná die tsoenami in 2004 en toe gee sy vir Liekkie ’n klein blaartjie. Sy plant dit toe en nou gee sy self blaartjies vir enigiemand wat saam tob oor dié buitengewone plant.
“Is dit nie wonderlik nie?” vra sy terwyl sy staar na haar heldergroen vriend.
Die naam van dié plant, wat haar voortdurend laat kopkrap? Die geleerdes noem dit ’n Kalanchoe daigremontiana Itulehti!
Ja, gelukkig is die naam selfs verwarrender as die plant self. ’n Vertaling van die groot Latynse woorde is blykbaar “Moeder van duisende”. Die plant staan ook bekend as die “Duiwel se Ruggraat”, “Alligator-plant” en die “Meksikaanse hoedplant”.
Die unieke plant reproduseer deur “babas” te maak rondom die kante van elke blaar. Dit kan gepluk word of wanneer dit self afval, groei daar nuwe plante waar dit val.
Liekkie praat met net soveel passie oor haar ander stokperdjies. Een daarvan kan bespeur word wanneer sy agter haar skootrekenaar, wat sy blykbaar nog glad nie verstaan nie, en rekenaarspeletjies speel.
“Dit hou die angsaanvalle weg,” sê sy met ’n glimlag. Haar jeugdigheid en lus vir die lewe is inderdaad merkwaardig.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements