vier4Vir ’n oomblik hang die vier meisies gewigloos in die lug. Sekondes vroeër het hulle nog saamgelag.

In ’n oogwink verander alles. Dit was die laaste keer dat Remona Visser (20), Sasha Swart (20) en Hoërskool President se Tanya Young (17) en Chanè Strydom (17) saam sou wees.

Die Chevrolet Spark sou binnekort begin rol en Tanya en Chanè sou nie dié ongeluk buite Langebaan oorleef nie.

Vrydagmiddag om 17:20 was hulle nog op pad om te kampeer by Vlakvarkgat. Die volgende aand sou hulle na Flamingo’s gaan en ’n onvergeetlike aand saam hê. Hulle sou dan lekker lang vakansie gehou het. Tanya en Chanè sou hul voorberei het vir ’n suksesvolle en jolige matriekjaar en Kersfees saam met hul families deurgebring het.

Om 17:30 het Sasha beheer verloor oor die Spark en van die pad gery. Dit het ’n hele paar keer gerol en getuimel en toe die opgefrommelde wrak uiteindelik tot stilstand gekom het, het die twee jongste passasiers wat agter gesit het, noodlottige beserings opgedoen.

Remona en Sasha is hospitaal toe geneem, maar hulle herstel tans by die huis.

“Ek is orals seer,” sê Remona. “Die laaste ding wat ek onthou is dat ek en Tanya gesels het en toe kap my kop teen die venster en toe rol die kar. En dis dit… ek weet nie wat gebeur het nie. Dit gaan baie sleg met Sasha. Sy is baie stil en teruggetrokke.”

Die vier het baie uitgesien na die naweek en amper die heelpad gelag.

Volgens Langebaan se polisiewoordvoerder, kapt. Noel Minnaar, het die wind baie sterk gewaai en kon dit moontlik die rede gewees het hoekom Sasha beheer oor die motor verloor het.

Remona gaan voort terwyl sy die hartseer wegsluk: “Ek en Tanya was die witkoppies in die groep. Mense het altyd gesê ons lyk soos ’n tweeling. Die helfte van my het daai aand in die kar doodgegaan. Ek mis haar ongelooflik baie. Ek sal nooit weer vir haar ’n drukkie kan gee nie.” Anton Strydom, die pa van Chanè, is verpletter.

“Ons probeer dit maar op ons manier verwerk. Jy kan nie stilstaan nie, maar dis nie maklik nie. Dit raak net moeiliker. As die kind vir jou geleen is vir 17 jaar en 11 maande, dan is dit moeilik. Dis te kort,”sê hy.

“Chanè was so ’n bubbly person. Daar is só baie goeie herinneringe. Sy het altyd baie foto’s geneem en ons het vir haar gesê dat dit nie nodig is nie, maar nou weet ons sy het dit gedoen om vir ons memories na te laat. Almal praat net van Chanè’tjie wat altyd gelag en ge-sparkle het,” sê Anton.

Tanya se ouers kon teen druktyd nog nie kommentaar lewer nie.

Die ontroosbare pyn van almal wat vir Tanya en Chanè geken het, word egter oorskadu deur kosbare herinneringe.

Die vier meisies se Facebook-bladsye word oorval met boodskappe van treur en ondersteuning. Daar is só baie boodskappe dat dit onmoontlik is om almal te noem.

Nataly Nieuwenhuys sê van Tanya: “Ek het Vrydag toe die skool gesluit het, vir haar gesê om nie skaars te wees nie. Ons laaste woorde aan mekaar toe sy weggestap het, was ek wat vir haar skree: ‘Bokkie, ek is lief vir jou!’ Sy het omgedraai en die mooiste glimlag gegee en gesê: ‘En ek vir jou’.

Ander boodskappe van Chanè se vriendinne is:

Ciska Kruger: “Sy het geweet hoe ons oor haar voel, so daar is geen regrets nie. Dit was ’n ongeluk en daar is niks wat ons daaraan kon doen nie. Maar… ons mis haar baie. Sy sou Kersfees 18 geraak het.”

Arné Louw: “Sy was regtig ongelooflik. Sy was die sonskyn van almal se lewe en almal het altyd saam met haar gelag.”

Cara Willemse: “Sy het baie diep in ons harte gekruip. Ek sal altyd haar oë en haar glimlag onthou.”

Boodskappe van Tanya se vriendinne:

Kristen Freitas: “Sy was een van daai mense wat maklik is om mee te praat en sy het die moeite gedoen om my te aanvaar. Ons het baie gelag en met mekaar gepraat oor so baie dinge. Ek het haar nie baie lank geken nie, maar dit is ’n vriendskap wat ek vir niks sal verruil nie.”

Natasha Scholtz: “Aan my blouoog vriendin: Ek sal nooit verstaan hoekom die Here jou so vroeg weggevat het nie, maar ons almal weet Hy het ’n plan gehad met jou lewe. Ons mooiste blom is Vrydagaand gepluk. Die manier hoe jy almal se dag opgehelder het, sal nooit vergeet word nie.”

Nikita Taylor du Toit skryf op Facebook: “Jy’s die helderste ster vanaand in die lug. Ek hoop jy rus in vrede en wens my hartjie kan ook in vrede lê, maar hy is nog so seer. Ons lief jou! xoxo blondie!”

Karla Smittie Smit skryf: “My trane loop, maar niks kan jou terugbring nie! Jy’s ’n engel… ’n rolmodel! Ek wens ek kon jou nog een keer sien! Sweef met jou wit vlerke.”

Vandag (Woensdag) om 18:00 sal die alombekende “Piper James” saam met leerlinge, vriende en familie vanaf Miltonweg tot Cambridgestraat stap, en dan sal almal blomme, kranse, briefies en foto’s by die skool neerlê.

Tanya se begrafnis is Saterdag om 11:00 vanuit die AGS Kerk in Goodwood . Chanè se begrafnis sal volgens haar pa moontlik volgende Dinsdag gehou word.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements