tbabsing

Elke volmaakte noot wat hy sing streel die siel.
Die bruilofsanger van Goodwood sing vir enigiemand wat wil luister, want daar is iets in sy hart wat die wêreld moet hoor.
“Because, you come to me, with naught save love,” sing Pieter le Roux (84). Die diep tenoorstem weergalm deur die kamer. Sy vrou, Hermine, sit oorkant hom en luister aandagtig na die liedjie wat sy al ’n duisend keer gehoor het.
Pieter het “Because” gesing by die eerste troue in 1949 waar hy ooit gesing het.
“Daar het eendag ’n dametjie na my toe gekom en gevra dat ek by haar troue moet sing. Ek was bietjie gespanne, maar oor die jare het ek gewoond geraak daaraan,” sê Pieter, voordat hy byvoeg dat sy hele familie musikale gene het.
Die bruilofsanger sal gewoonlik ’n liedjie sing net nadat die paartjie die ringe geruil het.
Die bruid, bruidegom en al die gaste in die huis van God sal dan luister na Pieter se hemelse stem.
“Ek is daardie dae 10 sjielings en ses pennies betaal! Dit was ’n groot klomp geld, hoor,” lag hy. “Met tien en ses kon jy ’n broek koop!”
Pieter haal ’n boekie uit en spog so ’n bietjie daarmee – sonder om so ver te gaan om sy eie beuel te blaas. “Ek het elke liewe troue waarby ek gesing het, hierin geskryf!” sê hy.
Daar is vele inskrywings in sy boekie, met die bruid se naam, die tyd en die kerk wat daarin pronk.
TygerBurger blaai deur die boekie en kies ’n naam uit die sowat 250 en vra, “Kan jy onthou watter kleur hare Ida Strydom gehad het toe sy in 1954 getrou het?”
Pieter dink diep en antwoord: “Haar hare was bruin! Ek sien nog hul gesigte so voor my!”
Hy het al ’n paar van die bruide gebel op hul 50ste huweliksherdenking en hul gelukgewens.
Partykeer sal die bruid baie verbaas wees en uitvra hoe weet Pieter nou dat hul al 50 jaar getroud is.
Hy sal antwoord en dan kom al die wonderlike gedagtes van gister weer in die gesprek op.
TygerBurger het by die Le Rouxs gaan kuier om meer uit te vind oor Pieter se “trouboekie” en sy gewoonte om mense met hul 50 jaar-huweliksherdenking geluk te wens, maar tydens die onderhoud het die fokus geskuif, want die liefde tussen Hermine en Pieter is werklik soos musiek in die ore.
“Dit is baie lekker om saam met hom musiek te maak,” sê Hermine. Hulle is nou 19 jaar getroud.
“Ses maande ná my vrou oorlede is, het ek aan Hermine se deur geklop. Ek is ’n ouderling en het so van huis tot huis gegaan. My water was afgesny daardie dag, so toe vra ek vir mevrou Pretorius vir so ’n bietjie tee!”
Hermine Pretorius – soos sy toe bekend was – het Pieter toe gevra om by ’n samekoms van die Hervormde Kerk die volgende Vrydag te sing. Hy het natuurlik ingestem.
“Net nadat ek gesing het en gaan sit het, het ek haar gesien en gedink vir háár gaan ek inkatrol!” Hermine lag en sê: “Jy moet nie dit skryf nie hoor!”
Jammer Hermine… die storie is net te skatlik!
Ná 19 jaar is hul liefde nog net so sterk soos altyd, en ’n groot deel van hul verhouding is op musiek gegrond.
Een van Pieter se gunsteling-liedjies wat hy by troues gesing het, is “I walk beside you”, en dit is presies wat Hermine en Pieter elke dag doen – al sing hy partykeer te hard in die bad!

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements