Die komediant van Bothasig sê: “Ek is in ’n arranged marriage. My vrou het die hele troue arranged!”
Die joernalis van TygerBurger bars uit van die lag en sê: “Ek gaan dit as my inleidingsparagraaf gebruik!”
Die komediant antwoord: “Nee man! Dis een van my beste jokes!”
Brent Niemandt (34) is onlangs genomineer as een van die beste komediante in die land by die Ikusasa-toekennings in Pretoria. Hy was ook “streng gesproke” die enigste Afrikaanse komediant by die geleentheid – sy trots ken geen perke nie.
Niemandt is nog altyd ’n snaakse ou, maar hy het eers onlangs voltyds begin “werk” as ’n komediant, want deesdae sit hy op die bank voor die televisie, skryf snaakse gedagtes neer en maak geld!
Sy eenmanvertoning staan bekend as Pasgetroud en die idee daaragter is dat hy “mislik” voel en “moeg” is. “My vertoning gaan omtrent 70% oor die getroude lewe, 10% oor my seun, 10% oor ander dinge soos koerantopskrifte en die ander 10% oor my skoonma,” verduidelik Niemandt. Hy kom blykbaar goed oor die weg met sy vrou en sy skoonma…“Ek praat onder andere oor troues, babas en ander verskonings vir minder seks, asook tien nuwe maniere om op ’n poef te slaap,” gaan hy voort.
Niemandt tree ook baie keer op saam met ander komiese mense, soos Vaatjie van Poena is koning-faam en Wayne McKay.
Saterdagaand (2 Junie) word een van hierdie gesellighede juis by Encore-restaurant by Northlink-kollege in Welgelegen gehou.
Toe Niemandt nog by die Hoërskool Bosmansdam was, het hy besef dat daar ’n tikkie humor deur sy are vloei.
Hy en ’n vriend het afgedwaal van die skool se gewone verjaarsdag-afkondigings toe hulle voor die skool begin sing het. “Happy birthday dear Brent Niemandt, Jan de Wet, Piet Potgieter, happy birthday to you,” sing hy.
Die joernalis weet nie wat’s snaakser nie – die vernederende kyk op sy gesig, die idee dat hulle dit voor die skool gesing het, of die vals note nie.
Dit is juis die kombinasie van vele humorfaktore wat Niemandt as komediant so uniek maak.
Nog ’n uitstekende voorbeeld hiervan is die dag toe hy op Youtube “aansoek” gedoen het vir die Springbok-afrigtingspos. Om dié voorval neer te skryf, laat dit nie tot sy volle reg kom nie, want Niemandt se aksent en gesigsuitdrukkings is amper snaakser as dit wat hy sê. Die “aansoek” het só gelui: “Ek glo ek’t die regte ervaring wat julle soek vir Springbok coach, omdat ek onlangs die Wêreldbeker, die Tri Nations, die Super 14 én ’n Lions-toer op Playstation 2 gewen het! Ek het vier jaar beplan om dit te wen, maar ek kan julle nie te veel van hierdie plan vertel nie, want dan gaan iemand anders my f$#kk*$ plan vat! Maar ek kan julle sê die plan is om dit te wen! Rugby is ’n eenvoudige spel. Die span wat die meeste punte aanteken, wen. So my wedstrydplan sal wees om meer punte aan te teken as die ander span. Ten slotte wil ek net sê, gee my daai f$#kk??*$ job, want ek is gatvol om ’n car guard te wees!”
Hiermee het Niemandt ook gesê hoe hy reken ’n grap gestruktureer moet wees (ander voorbeelde is ongelukkig nie sensorbaar nie). “Dit kom neer op setup, setup, punchline en setup, punchline, tag.”
Skakel 084 273 7881 om ’n kaartjie te bespreek vir Saterdag se vertoning of gaan na http://www.bekrek.co.za, of e-pos Bekrek Comedy by info@bekrek.co.za.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements