So, wie het nou vir wie uitoorlê?
Hierdie vraag bly onbeantwoord nadat ’n suster en ’n broer van Goodwood onlangs te staan gekom het teen ’n groep rowers.
Die suster en die broer verkies om anoniem te bly.
Hul skermutseling met die boosdoeners het begin toe die broer se selfoon en motorsleutels by hom gesteel is tydens ’n “drinksessie” by Gophers Pub in Voortrekkerweg.
Ná sy kuiertjie was hy geskok toe daar net ’n oop parkeerplek was waar sy Volkswagen Passat veronderstel was om te wees.
Volgens sy suster wou die polisie dié aand nie ’n verklaring by hom neem nie, want hy was onder die invloed van drank.
Die woordvoerder van Goodwood-polisie, ao. Wayne Theunis, het bevestig die broer was “baie dronk” en dat die polisie hom nie te woord gestaan het nie.
Die volgende oggend het die suster ’n kans gewaag en haar broer se selfoonnommer geskakel. ’n Vrou sê toe dit is haar selfoon.
Toe die suster vir haar die storie begin vertel, het sy die foon neergesit nadat sy vir iemand by haar geskok gesê het die foon is gesteel.
Die suster stuur toe ’n SMS en doen ’n beroep op die eerlikheid van die vrou om haar te help om haar broer se motor op te spoor – al kos dit nou R2 000.
Die aanbod het op dowe ore geval.
Eers nadat die suster die beloning opgeskuif het na R5 000 het die vrou geantwoord.
Daar is ooreengekom dat die “skurke” die geld vir die motor sal verruil, maar die suster is gewaarsku dat hulle nooit weer die motor sal sien as die polisie betrek gaan word nie.
Sy het toe haar broer gaan optel tydens ’n etensuur en hom afgelaai by die afgesproke plek.
Sy het ’n ent verder in haar voertuig gewag en weer die rowers gebel, het sy vertel.
Haar broer moes toe ’n hele paar blokke ver stap om die geld te ruil vir die motorsleutels.
Die suster het intussen om die blok gery en skielik op die Volkswagen afgekom, wat sy toe summier met haar motor blokkeer het.
Terwyl haar broer gestap en sy gewag het, het sy iemand in die straat na die Volkswagen sien stap, maar toe die persoon sien sy blokkeer die voertuig, het hy skuldig omgedraai en weggestap.
Sy glo die persoon sou die Volkswagen weer gesteel het sodra die geld aan sy makkers oorhandig was.
Uiteindelik het die broer wel R5 000 opgedok, maar hy het darem sy voertuig teruggekry.
Die suster wil almal waarsku om versigtig te wees vir só ’n tipe slenter.
Theunis is baie ongelukkig dat die broer en suster die saak self verder geneem het en nie die polisie vertrou het om hul werk te doen nie.
Hy sluit uitdruklik af: “Die publiek moet onder geen omstandighede met boosdoeners onderhandel nie!
“Hulle kon seergekry het, want hulle het geen idiee gehad met wie hulle te doen gehad het nie. As die broer en suster genoeg inligting gehad het om die verdagtes te bel, dan kon ons hulle in hegtenis geneemhet.”

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements