Die duif land op die grondpad en pik-pik hier en daar.

Die juigende skare pla hom glad nie en die gedreun in die agtergrond, wat nogal vinnig harder word, is ook nie vir hom van belang nie.

Hy sien die karre in die verte om die draai skiet en nogal onrusbarend vinnig groter word.

In ’n oogwink fladder hy sy vlerke en ontwyk die brullende Mini’s.

Die voorloper kyk senuweeagtig in sy truspieëltjie en sien Jano van der Westhuizen is reg agter hom.

Van der Westhuizen ry nou al ’n hele paar rondtes reg op sy agterstewe en daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Solank hy kophou, sal hy eerste eindig.

“Ons het almal met Mini’s gery by die WP-kampioenskappe. Ek en die outjie het een en twee begin en wie ookal daar gewen het, was WP- kampioen! Dit was maak of breek,” onthou die 22-jarige Van der Westhuizen.

“Ons was bumper teen bumper – hy voor en ek agter. Dit was baie frustrerend, want ek het geweet ek kan hom verbygaan, maar ek kon nie die vuilspel in hom uithaal nie!”

Daar was toe ’n ongeluk op die ovaalbaan naby Kraaifontein wat almal gedwing het om stadiger te ry en jaers kon mekaar toe nie verbygesteek het nie.

Hulle het stadig om die baan gery sodat die karre wat in die ongeluk was, verwyder kan word. Toe gee hulle die teken dat die jaers die volgende rondte weer kan versnel.

Van der Westhuizen gaan voort: “Hy was seker in ’n ontspanne bui, want die tweede draai het hy te wyd gevat en toe kry ek my neus voor hom. Op die straight het ons teen mekaar geskuur en toe rem ons op dieselfde tyd, maar ek het die binnebaan gehad en kon voor hom kom!”

’n Paar stresvolle rondtes later is Van der Westhuizen as die kampioen gekroon.

Hy het al op vyfjarige ouderdom begin skaaf aan sy bestuursvernuf agter ’n go-cart-stuurwiel, en sedertdien het hy al baie kompetisies gewen.

Hy het al op ’n jong ouderdom op provinsiale vlak in sy Jetta 3 by die Killarney-renbaan uitgeblink en onlangs op die nasionale vlak in ’n Polo Vivo.

Dit is ’n duur sport en borge is moeilik om te bekom, maar Van der Westhuizen leef sy droom.

“Ek sal graag eendag ’n Formule 1-renjaer wil wees! Of ’n WRC rally-jaer soos Sebastian Loeb,” lag hy.

Net om te sien met watter geesdrif hy oor die rooi voertuig in die motorhuis gesels, getuig daarvan dat sy liefde vir die sport geen perke ken nie.

“Dit is ’n 2 liter-FSI-Golf 6-enjin,” sê hy trots.

“Dit het omtrent 145 kw en amper 200 newtonmeter-wringkrag. Die ratkas is standaard en daar is ’n groter uitlaatpyp en die wiele is Golf 4-GTI-wiele met resies-vlakke. Hoe warmer dit word, hoe groter padhouvas het dit. Die kar binne is maar ’n leë dop, maar die roll cages hou jou veilig as jy rol.”

Al die voertuie in die nasionale kampioenskap het identiese enjins en wiele, sodat ’n jaer se bestuursvernuf die enigste maatstaf is.

Ten spyte van die feit dat Van der Westhuizen ’n meester is agter die stuurwiel, het hy al wel ’n paar “brain farts” – in sy eie woorde – op die pad gehad, maar niemand is perfek nie.

Verrassend genoeg het hy nog net drie spoedkaartjies gekry, so hy weet presies wanneer om sy drang na spoed in toom te hou.

“Dis baie gevaarlik op die pad. Ek voel baie veiliger op die baan,” sluit hy af.

Hy gaan weer aan die nasionale kompetisie op 28 April in Port Elizabeth deelneem. Hou Kaapstad se naam hoog, Jano!

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements