Die Goodwood-brandweerstasie se nuwe bevelvoerder, Mariette Retief (36), het al klaar diep spore in haar loopbaan van 14 jaar getrap.

Tog, ten spyte van die feit dat sy een van die eerste vrouebevelvoerders in die Wes-Kaap is, is haar hoogtepunt tot dusver dat sy ’n seuntjie ’n tweede kans op lewe gegee het.

“In 2009 het ons ’n oproep ontvang oor ’n huis wat brand. Daar was mense in die huis vasgekeer. Omdat ek die kleinste was, moes ek toe deur die venster klim,” lag sy.
Sy het ’n 11-jarige seun wat nie asemgehaal het nie, onder die bed gekry en hom dadelik uit die rookgevulde huis verwyder.
Omdat Retief ook ’n intermediêre medikus is, het sy kunsmatige asemhaling toegepas en só die seun se lewe gered. “Hy haal vandag nog asem!” sê sy trots.

Dit is blykbaar baie raar dat iemand ooit die geleentheid kry om iemand anders se lewe te red. Haar onlangse bevordering kan dus nie kers vashou met só ’n wonderwerk nie.
Retief bly in Brackenfell en behalwe vir Goodwood, het sy al as ’n brandbestryder in Kuilsrivier en Durbanville gewerk. Sy het dus al waardevolle werk in die noordelike voorstede verrig.
Toe sy begin het, was dit baie moeilik vir ’n vrou om in so ’n tipe loopbaan haar stempel af te druk, maar haar vurige passie het haar aangespoor om nooit moed op te gee nie.

“Ek het altyd geweet ek wil gemeenskapswerk doen en ’n verskil maak, maar ek was nie honderd persent seker wat ek presies wil doen nie. Ek was ’n reservis in die brandweer vir twee jaar en het toe as reservis aansoek gedoen. In daardie tyd moes jy ’n klomp keer aansoek doen, want die brandweer was nog nie heeltemal vrou-georïenteerd nie,” onthou sy. “Jy moet jouself bewys en vir niemand terugstaan nie!”

Haar aansoeke het tot gevolg gehad dat sy die eerste vroulike brandbestryder by die Kuilsrivier-brandweer (toe bekend as Oostenberg) geword het. Net veertien jaar later is sy tot stasiebevelvoerder van Goodwood bevorder. In haar geval was daar dus niks wat in die pad van haar dryfkrag gestaan het nie.
Sy sê juis met oortuiging dat sy eendag ’n uitvoerende direkteur of selfs ’n direkteur in die brandweer wil word. “Jy móét glo in jouself!”

Daar sal egter nog baie water in die see (en Bar-One-sjokolades) vir Retief moet loop voor daardie dag aanbreek. “Bar-Ones?” lag sy oor die TV-advertensies wat brandweerlui alewig Bar Ones laat eet. “Nee, ons eet dit net as mense dit vir ons bring!”
Retief het inspirerende woorde en raad vir jong meisies wat ook eendag miskien ’n brandbestryder wil word, as sy sê: “As jy fisiek en emosioneel sterk is en jy besluit dat jy dit sal maak werk, dan sal jy. Dit is ook beter om nie daaraan te dink as bloot ’n werk nie, maar wel as ’n loopbaan.”

Sy sluit af om die publiek aan te spoor om veilig te bly en altyd versigtig te wees vir vuur. “Maak seker dat klein kinders nooit met sigaretaanstekers en vuurhoutjies speel nie. Dit gebeur gereeld dat dit die oorsaak van brande is. Onthou, jy is die ouer en jy moet verantwoordelikheid neem vir jou kinders.”

Retief se ouers sal graag die erkenning vir hul dogter se sukses wil kry, maar dit wat sy bereik het, hou eerder verband met haar ingesteldheid van “aanhouer wen”.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements