“Daar is ’n spook in my toilet,” sê die anononieme persoon oor die telefoon.

TygerBurger se nuwe Kraaifontein-joernalis, Andre Bakkes, rol sy oë, maar hy is nietemin bly om ’n lekker mal artikel te doen.
In sy vyf jaar as joernalis het hy al ’n hele paar vreemde stories geskryf.
Bakkes glo dat almal ’n interessante storie het om te vertel, maar hy wil spesifiek fokus op die karakters van Kraaifontein.

“ ’n Spook? Nou hoekom sê jy só, meneer?” vra hy onskuldig.
“Elke aand hoor ek gekreunde klanke en as ek gaan ondersoek instel, dan sien ek niks,” antwoord die man.
Bakkes staan op en kyk agterdogtig na die ander joernaliste. Dit is so-te-sê ’n instelling om nuwelinge in die eerste week onkant te vang met wolhaarstories.

By sy vorige werk in die suidelike voorstede by People’s Post het ’n “ou dame” hom gekontak om te sê dat haar onderklere konstant van haar wasgoedlyn verdwyn.
Hy sien geen skuldige kyke van sy nuwe kollegas nie, maar hy vat ’n kans en sê: “Miskien moet meneer die Ghostbusters kontak.”

Die anonieme persoon verloor sy humeur, “Ek dink nie jy glo my nie! Ghostbusters is ’n fliek man!”
“Mmmm… miskien is hierdie persoon opreg,” dink Bakkes, maar hy wil nog nie heeltemal opgee nie, so hy speel onskuldig. “Nee, nee. Ek praat nie van die Amerikaanse Ghostbusters nie. Daar is inderdaad ’n groep mense in ons land wat hierdie dinge ondersoek.”

Die “spookslagoffer” maak toe sy groot fout toe hy sê: “Sit my deur na jou redakteur mnr. Bakkes.”
Aha! Die nuwe joernalis het nooit sy van bekend gemaak nie.
Na die aanvanklike ontkenning en die uiteindelike gelaggery, bel nog ’n persoon hom.

Hy antwoord impulsief, “Wat het hierdie keer gebeur? Is daar ’n perd met horings gebore?”
Die woorde, “nee Andre, dis jou baas,” vat ’n rukkie om in te sink…

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements