Die inspirerende Kraaifontein-inwoner sit voor die telefoon en wonder wie sy vandag gaan bel.

Wat van Worcester-polisiestasie? Sy bel hulle en vra om met die stasiebevelvoerder te praat. Die persoon aan die anderkant praat en ná ’n lang gesprek, sit hy die telefoon neer. Hy skud sy kop, maar hy glimlag van oor tot oor.
Stienie Stoffberg (65) het nou net vir hom gesê hoe baie sy die polisie se harde werk waardeer.

Een klein oproep het sy lewe verryk. Stienie inspireer die polisie op ’n daaglikse basis.
“Ek bel landwyd! Musina, George – enige plek. Ek vra eers vir die persoon wat hul rang is, en dan spreek ek hom of haar aan op hul rang. Ek het absoluut respek vir die polisie en stel belang in wat hulle doen. Dit is baie belangrik vir my om te weet ons manne in blou is veilig. Hulle het seker die ondankbaarste werk in die land, want almal pik op hulle en niemand het ’n goeie woordjie vir hulle nie, en dit maak my briesend,” sê sy.

“ ’n Polisie-beampte is ’n spesiale mens. Nie enigiemand kan na ’n moordtoneel gaan en bewyse bymekaar maak nie. Nie enigiemand kan na ’n meisie se ouers gaan en vir hulle sê dat hul dogter verkrag of vermoor is nie.”
Sy sal vir hulle dan mooi vra om versigtig te wees en tog hul veiligheidsbaadjies te dra as hulle weet hulle gaan in ’n gevaarlike gebied in, want “vir elke man wat seerkry, is daar ’n vrou en kinders wat agterbly, en vir elke vrou is daar ’n man wat agterbly”.

Wanneer Stienie gevra word hoe sy voel as sy hoor ’n polisie-beampte is beseer of vermoor, bly sy vir ’n oomblik stil. “Ek kry so ’n koue gevoel, dan word ek kwaad, en dan voel ek baie hartseer. Die polisie is baie na aan my…” Vir ’n oomblik lyk dit of sy die trane wegsluk.
Daar is geen spesifieke rede hoekom sy voel dat sy die Suid-Afrikaanse polisie moet ondersteun nie, maar dit is duidelik dat dit ongelooflik baie vir haar beteken.

“Die waardering en die dankies is genoeg vir my. Dit maak daardie paar sent wat ek uitgegee het om te bel, die moeite werd. Die ou by Musina kon dit nie glo dat ek bel nie,” lag sy.
“Hy het gedink dis ’n set-up, en wou onmiddellik weet hoekom ek nou so iets sou doen. My dank kom baie diep uit my hart uit.”

Partykeer gesels sy tot ’n halfuur met die polisie. Volgens haar is haar telefoonrekening “ ’n ander storie”.
Sy sê daar is baie pessimisme oor haar ridders. “Net omdat daar een vrot appel in die mandjie is, beteken dit nie dat almal sleg is nie. Die grootste gros van hulle is goeie mense!” sluit Stienie af.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements