Wilhelmina Enever van Huis Ysterplaat se geheue is nog vlymskerp, wat eintlik verbasend is omdat daar so baie dinge is om te onthou!

Verlede Woensdag het Wilhelmina haar 100ste verjaarsdag gevier met ’n handjievol mense, maar dít was net ’n voorsmakie vir Saterdag se groot partytjie in Gordonsbaai. Daar was sowat 150 gaste wat haar gebeurtenisvolle eeu in die Kaap kom vier het.

Wilhelmina se stamboom is net so merkwaardig – sy het vyf kinders (waarvan vier nog lewe), 16 kleinkinders, 30 agterkleinkinders en vier agter-agterkleinkinders.
Van haar familie en vriende – asook parlementslid Denise Robinson – het Woensdag by haar kom kuier en TygerBurger genooi om die oomblik vas te vang.

Wilhelmina se oudste dogter, Hilda Faber (78), is ook ’n inwoner by Huis Ysterplaat, maar sy het die afgelope week rondgewoel soos ’n 30-jarige om finale reëlings te tref vir die Gordonsbaai-feesvieringe.
“Daar sou oorspronklik net 50 gaste gewees het, maar nou kom daar amper 150,” sê sy.
Niks is te goed vir hulle mammie nie!

Wilhelmina is gebore in 1912 en ’n paar jaar later het die Huis Ysterplaat-inwoner haar opvoeding begin by Laerskool Ysterplaat.
In 1930 het sy in die huwelik getree met Edwin Alexander Enever en voor die twee hul oë kon uitvee het hulle vyf kinders gehad.
Hilda gaan voort, “Toe ek so 10 jaar oud was, het ek en my mammie menige nag deurgewerk. Sy het naaldwerk vir die bekende Cinderellas in Kaapstad gedoen vir ’n ekstra geldjie. Sy het ure lank gesit agter ’n Singer-naaimasjien en ek het knopies en hakkies aan die rokkies aangewerk.”

Dit was moeilike tye vir die meeste mense in Suid-Afrika daardie jare, en die Enevers het net so swaar gekry. Die hegte gesin het egter saamgestaan en niks kon hulle onderkry nie.
“Ons het so ’n lang stoep gehad agter ons huis en Kersfeestyd het ons twee groot tafels daar gesit en hoe lekker het ons nie geëet nie. In daardie dae was skaapvleis baie goedkoper as hoendervleis, so ons het hoender gekry as ons nou lekker ge-treat was!”

Volgens Hilda is die geheim van haar ma se lang lewe heelwaarskynlik Wilhelmina se sterk werksetiek.
“Sy sien haarself ook nog altyd as die minste en sy het nog nooit gehou van argumente nie,” verduidelik Hilda.
Wilhelmina se gesondheid is deesdae “nie so goed” nie, maar haar familie het haar konstant aangespoor om die eenhonderdtal te bereik.

Hulle sou sê, “Ouma moet vasbyt”, maar nou sê Hilda, “Sy moet nou mik vir 110!”

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements