Die diep, donkerblou depressie het die godsverlate gevangene beetgehad en hom na die bodem van wanhoop begelei.

Hy het al lankal moed opgegee en die lewe het niks vir hom beteken nie.
Toe, in sy benoude tronksel, het die Here ingegryp en hom na die oppervlakte gehelp.
Die misdadiger wat vir tien jaar tronk toe gestuur was vir die kaping van ’n vragmotor, onthou baie goed die oomblik toe alles radikaal verander het.

“Ek het ’n droom gehad waar die Here saam met my gewandel het en toe wys Hy vir my die hel. Dit was ’n put van vuur en mense,” sê pastoor James Marengoe (47).
“Die Here het met my gepraat en gesê dat daar ’n uitkoms was, maar dat ek eers ’n keuse moes maak. Daarna het ek wakker geskrik en die sweet het my afgetap. Ek het dadelik begin huil.”

In 2004 het dié misdadiger ’n Christen geword en vir vier jaar het hy intensief in teologie studeer.
TygerBurger het besluit om James se merkwaardige storie te vertel nadat sy Bybelsklool-studente vandeesweek gegradueer het.
“In 1994 het ek en drie vriende ’n vragmotor vol visolie gekaap, maar êrens het inligting uitgelek en die aand van die kaping het hordes polisiemanne op ons toegesak. Ek was lam geskrik. Hier ry ek nog en toe sien ek net ’n klomp ligte en hoor die stemme skree.”

Hulle was vir ses maande in die selle by die Maitland-polisie aangehou en toe later het hy vier jaar in Pollsmoor gewag vir die verhoor. Die regter het James uiteindelik in 2002 tot 10 jaar tronkstraf gevonnis – van Pollsmoor tot Helderstroom tot Brandvlei-medium.
Sy familie en vriende het hom verwyt en hy het die lewe verwyt.

In Pollsmoor het hy by die omstrede “26”-bende aangesluit en was gou bevorder tot “kaptein”.
“My lewe was net een groot gemors.”
Marengoe staar peinsend na die muur.
“Ek het so laag gedaal dat ek ’n opdrag aan my manne gegee het dat as hulle gevangenes sien wat preek, hulle hul moet verwilder en stilmaak.”

Hy het sy verhaal al vir baie mense vertel, maar vir ’n oomblik klink dit of hy vir die eerste keer daaroor praat.
“Ek het selfmoordneigings gehad. Een aand het ek ’n tou aan die vensterbank vasgebind en my nek in die strop gesit. En ek het gehang, maar ek het my hande in die tou gehad.
“Die drommetjie was ook nie ver weg nie, so ek kon myself loswikkel.”
Dit was tydens sy laagste punt dat James gedroom het van die hel.

“Ek het onmiddellik ’n pastoor gaan sien en hy het sy hande een keer geklap en gesê, ‘Die Here het met jou gepraat. Wat gaan jy doen omtrent hierdie saak?’ Ons het ’n gebed gehou en daar – daar! – het ek my hart aan die Here gegee.
“Die 15de van die vyfde maand in 2004.” Vier jaar later is hy op goeie gedrag vrygelaat. Hy het verder in teologie studeer en honderde motiveringsessies en preke vir die ander gevangenes gehou.

“Ses maande voor my vrylating het ek weer ’n droom gehad. “Die Here het vir my in ’n stem wat weerklink, gesê dat van die mense daar buite ’n gebrek het aan kennis en wysheid. Hy het toe vir my gesê ek moet ’n Bybelskool begin.
“Later vra ek toe vir Hom vir ’n vrou, ’n werk en ’n kar.”

’n Paar wonderwerk-gevulde jare later en James het ’n geliefde vrou, ’n werk by Imperial Cargo, ’n “lekker karretjie”, en ’n geakkrediteerde Bybelskool met 30 studente en vyf gekwalifiseerde lektore by die Assembly of God in Kraaifontein.
Vir meer inligting oor die Bybelskool en die teologiese kursusse wat hulle daar aanbied, skakel pastore Eben Potts by 084 609 2408 of James Marengoe by 072 386 9096.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements