“Vyf, vier, drie, twee, een… lift off!”

Die vuurpyl vat vlam en skiet doelgerig die hemel in.
’n Lang, wit spoor volg die handgemaakte toestel vir honderde meters, en dan vir een oomblik hang die vuurpyl doodstil in die blou lug voordat dit terugval aarde toe.

Hannes Grob­ler (37) se oë blink terwyl hy hunkerend kyk na die valskerms wat een na die ander oopgaan.
Hy draf wind­af met ’n glimlag.
Grobler bou nou al vir tien jaar vuurpyle en vir hom is dit meer as net ’n stokperdjie – dis sy lewe.
“Ek eet, slaap en droom rock­ets,” lag Grob­ler.

Die hoogste wat een van sy vuurpyle al gevlieg het, is om-en-by vier kilometer, maar daar is geen perk aan sy drome nie.
Swaartekrag is inderdaad iets om te oorkom.
Sir Isaac Newton sal in sy graf omdraai as hy hoor dat Grobler voor die einde van die jaar ’n “groot meneer” tot 15 kilometer in die atmosfeer sal opstuur.

Grobler haal ’n swaar, silwer pyp uit en sê: “Dit is die grootse vuurpylmotor in private besit in Suid-Afrika!”
Hy gaan dit installeer in ’n groot vuurpyl (so twee meter hoog) en dit dan in die lug opstuur.
Maar eers moet hy die regte sertifisering bekom, wat hom dan sal bemagtig om sulke groot toestelle te gebruik.

“Daar is nog niemand in die land wat ’n vlak drie-sertifikaat vir high powered rocketry het nie,” gaan hy trots voort.
Grobler, die president van die Cape Town Model Rocketry Club, sal een van hierdies moet aanskaf vóór die groot dag.
TygerBurger het ’n draai gaan maak by sy huis in Kraaifontein en tussen al die vuurpylbybehore is daar bittermin spasie om in rond te beweeg.
Ronde kartonbuise lê teen die studeerkamer se muur, en in die agterkamer is daar seker 60 handgemaakte vuurpyle van alle kleure en geure.
Om een van hierdie “outjies” in die lug op te stuur gebruik hy suikerbrandstof, wat blykbaar ’n hoogs vlambare kombinasie van ’n suiker-en-salpetermengsel is.

Vir die volgende 10 minute gooi Grobler woeste woorde wat die broek laat bewe.
“Design…centre of gravity…centre of pressure…aerodynamic forces…carbon fibre…onboard electronics…V2 rocket…”
Dié joernalis knik sy kop en probeer sy beste om nie te frons nie.

“Ken jy die groep Heuwel Fantasties?” vra hy uiteindelik.
Een van Grobler se vuurpyle is juis gebruik in ’n musiekvideo van dié Bellvillese groep.
Hy verander die trant van die gesprek vir ’n laaste keer as hy sê: “Almal moet hierdie stokperdjie opneem. Dit is goedkoop en jy hoef glad nie ’n rocket scientist te wees nie!”

Belangstellendes kan die webwerf http://www.ctmrc.co.za besoek vir meer inligting oor hierdie stokperdjie.
Hulle kan ook op Facebook by die groep “Model rockets Cape Town” aansluit.
Vir meer inligting, kontak Grobler by 082 746 5892.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements