“Hoezit, my tjommas!”

Die kinders skree. Die dak van die Laerskool Monte Vista lig effens.
Sorina Erasmus ken van Flooze-mania.

Amper al die 7de Laan-liefhebbers het ’n spesiale plekkie in hul hart gereserveer vir Sorina se Flooze-karakter.
Die woorde “hoe hang dinge” en “hoe loop die stroom” sal nooit weer dieselfde wees nie.
Flooze het – soos die paradoks wat sy is – oor kykers gewaai soos ’n vars, Witbankse briesie.
TygerBurger het Sorina verlede week onderskep in Monte Vista en ten spyte van haar tjok-en-blok-program, het sy altyd tyd vir haar tjommas – selfs al het hulle nie dik kuite nie.

“Sekere goed wat Flooze doen, is heeltemal teen my grein,” lag Sorina.
“Daar moet ’n middeweg tussen die twee gevind word. Partykeer weet ek nie eers wie ‘ek’ is nie. Is ek common? Is ek cool? Is ek ’n kunstenaar? Is ek ’n aktrisie? Is ek ’n sangeres?”
En hierdie joernalis het gedink hy gaan die vrae vra.

Sorina se tweestryd loop al sedert universiteit saam met haar, sedert sy eers haar meestersgraad in regte verwerf het en toe drama gaan studeer het.
“Ek is wie ek is!” sê sy skielik oortuigend.
“Sorina kan ook lekker common wees. Die bottom line is dat Flooze leer by Sorina en Sorina leer by Flooze! Jy hoef nie die mooiste of die rykste te wees nie. Solank jy en God happy is met jouself, dan is elke sekonde die moeite werd.”
Sorina het ook die geleentheid gebruik om 7de Laan-aanhangers te waarsku dat daar “binnekort een of ander riller gaan gebeur”.
Blykbaar is daar ’n liefdesdriehoek op die horison…

Sorina praat nog so, toe is sy al weer op pad na plekke soos George, Port Elizabeth, Malalane en Kroonstad.
Kaapstad lê natuurlik baie na aan haar hart, en sy kan nie wag om terug te wees op 5 Desember wanneer sy haar nuutste CD, Ek Watch Jou, by Barnyard in Willowbridge om 19:00 gaan bekendstel nie.

***DISCLAIMER: THIS ARTICLE AND PHOTO WERE PUBLISHED IN TYGERBURGER, A CAPE TOWN BASED MEDIA24 COMMUNITY NEWSPAPER. NEITHER MAY BE DUPLICATED WITHOUT ACCREDITING THE SOURCE – TYGERBURGER, MEDIA24.***

Advertisements